Die bevrydingsorganisasies het jongmense – kinders wat jonger is as my oudste – gebruik om hul politieke ideologie te versprei, en om t ehelp met die uitvoer van hul rewolusie. Die kreet van “Liberation before Education” het in die ‘70’s en ‘80’s deur die strate van die townships geeggo, en die skoolkinders het hulself met oorgawe oorgegee aan die woede. Skole afgebrand, klippe gegooi, en uiteindelik wel ‘n bydrae gelewer tot die verandering van Suid-Afrika in ‘n nie-rassige, demokratiese land. Hector Pieterson word onthou. Die amptelike sterftesyfer was 23 sterftes, maar onafhanklike bronne skat die sterftesyfer op meer dan 200. 200 kinders. Ek betreur die sterfte van onskuldige kinders. Ek het woede in my maag as ek dink aan hoe kinders pionne was in die hande van die Suid-Afrikaanse regering van destyds, maar ook hoe hulle pionne was in die hande van die bevrydingsorganisasies.
Ek kry seer as ek dink aan hoe die destydse regering ons as blanke seuns voorberei het op ons tyd in militere diens. SOmmige van ons het so jonk as 17 jaar grens toe gegaan en veg vir ‘n ideologie waarvoor ons vir 12 jaar op skool voorberei was om te sterf. Ek onthou kadette by Voortrekkerhoogte Hoërskool waar ons discipline geleer was en geleer was om te marsjeer in rytjies. Ons bruin kadethemde, en die marsjeerorkes wat die maat aangegee het. Ek het eers beul gespeel en later trompet. Ek onthou Veldskool, en Voortrekkers en al die ander instellings en organisasies wat ook bygedra het daartoe dat ek uiteindelik ‘n goeie soldaat sou kon word. Ek onthou hoe daar vir ons voorgelees was op laerskool al uit F.A. Venter se boeke oor die Xhosa oorloë en hoe die lyding van die Afrikaner gelei het tot die groot trek. Ons was geleer dat daar geen groter prys was om te betaal dan om vir jou land te sterf nie. Ek het in voorgeskrewe boeke gelees van penkoppe op commando saam met die grootmense. Van heldhaftige tienjariges wat die Engelse hel gegee het in die loopgrawe.
Nou sou hulle kindersoldate wees wat veg vir bevryding van hul lande.
Die kindersoldate van Midde-Afrika wat uit hul huise geruk word om te veg vir die “bevryding” van hul lande van die onderdrukking van die despote wat die voormalige bevrydingsorganisasies gelei het. Despote wat geglo het dat bevryding meer belangrik was dan opleiding.
Waar is hulle nou? Die kindersoldate van 1976? Sommige het posisies gekry in die huidige regering. Sommige woon nog steeds in plakkerskampe omdat hulle nooit skool klaargemaak het nie. Sommige werk in die kriminele onderwêreld as bendebase. Ander sit in tronke reg oor die land – nog steeds gevul met wraak en woede. ‘n Handjievol het posisies wat vir hulle gereël is deur hul vriende van toe.
Die kindersoldate wat aan my “kant” was is verstrooid oor die hele wêreld. Hulle beskerm BBP’s in Irak. Hulle woon in lande waar hulle voel hulle veilig sal wees van die wat hulle dink wil wraak neem op hulle. Hulle probeer om hul kinders ‘n beter toekoms te gee omdat… omdat ons generasie kindersoldate was.
Hector Pieterson sou vandag 46 jaar oud gewees het. ‘n Pa van kinders, miskien ‘n bestuurder van ‘n bank of iets. Jammer genoeg het hy die slagoffer van ‘n ideologie geword. Gabriel le Roux wat saam met my in die klas was is ook ‘n slagoffer van ‘n ideologie. Hy sou die jaar 45 jaar oud wees.
Tot Kyk
-Gideon-





Junk Mail has posted a warning about ...
Sorry, maar hierdie is nie die koeran...
angry: dis nabsolite kak koerant en ...