Thursday, February 09, 2012
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Foto's van die Varkfees. Hoe maak ek foto's van musikante op verhoog. Dinge wat nie cool is nie

W at ‘n tyd!! Die wiele rol en ons dae is vol. Alles in orde vir nog ‘n paar opwindende naweke. Vark (musiek) Fees Saterdag was ek by die Vark Fees, en wat ‘n fees was dit nie!  Ek was daar om foto’s te neem en het kans gehad om lekker te eksperimenteer met ‘n paar idees wat ek al lankal wou uitprobeer. Om foto’s te maak van vertonings Ek het ‘n VIP pas gehad wat my volle toegang gegee het tot die musikante en ook tot alle afgesperde areas. Dit het my kans gegee om rondom die verhoog te werk om foto’s uit verskillende hoeke te kry. Fotografie is nie regtig iets wat ek gereeld hier bespreek nie, so verskoon my as ek tegnies raak met die beskrywing, maar ek is seker dat sommige van julle die beskrywing wel sal geniet. Soos gewoonlik het ek nie regtig veel flash gebruik nie. Ek is nog steeds nie mal oor flash vir lewendige optredes nie, omdat dit steurend kan wees vir kunstenaars. Ek vind dit self steurend as iemand met ‘n flits werk, so probeer om dit te vermy, tensy die lig so swak is dat mens nie anders kan nie. Gelukkig was die beligting uiters goed, hoewel ek soms gevind het dat daar te veel rooi was in die beligting. Rooi is nie goed vir foto’s nie, en verwyder tekstuur en  karaktereienskappe van die onderwerp. Tensy jy dus ‘n amorfiese beeld wil kry wat amper soos die regte onderwerp lyk, vermy jy rooi lig. Uiteraard kan jy deur die rooi probeer sny deur flits, so dit is een van die min omstandighede waaronder ek wel flits gebruik by ‘n vertoning.

 

Toerusting

Gedurende die dag het ek twee kamera’s gebruik – elk met ‘n spesifieke lens gemonteer. Ek verkies dit so omdat ek dan nie in stowwerige omstandighede lense hoef om te ruil nie. My Canon 30D het ‘n Sigma 17-50 f2.8 lens opgehad vir foto’s teen ‘n wyer hoek. My 40D het my getroue Sigma 70-200 f2.8 lens opgehad, en meeste van my foto’s het ek ook dan geneem met die konfigurasie. As gevolg van die volume foto’s wat ek wou neem het ek gekies om nie in RAW te neem nie, aangesien ‘n RAW foto tot 15 Mb groot kan wees. Die foto’s is nie geneem vir vergrotings verby A1 nie, dus is JPG goed genoeg.  Ek het ook soms my flash gebruik. Ek gebruik ‘n Canon 580EX II flits met ‘n “diffuser” wat die lig sagter maak. Dit gee die vel ‘n sagte “gloed” wanneer ek foto’s neem eerder as die skerp wit wat meeste flashes maak. Dit versprei ook die lig in die agtergrond wat die foto meer natuurlik laat lyk.

Sluiterspoed

Om die sluiterspoed vinnig genoeg te kry kombineer ek ‘n groot apertuur (f2.8) met ‘n vinnige fotosnelheid.DJ Ossewa Die fotosnelheid is tipies tussen ISO800 en ISO1000. Gedurende die dag kon ek in die daglig ‘n bietjie stadiger filmsnelheid van ISO400 en ISO650 gebruik en die greinerigheid van die vinniger ISO snelhede vermy. Die grein in my foto’s teen ISO 800 en selfs 1000 is nie regtig steurend nie, maar wanneer mens die foto probeer skerper maak in Photoshop, is die greinerigheid geneig om versterk te word. Die foto’s van Saterdag is op hierdie stadium gladnie verwerk nie, maar ek is seker dat ek met tyd van die rou material sal verwerk.

Beligting

Die kunstenaars wat ek gefotografeer het Saterdag, was Gerhard Steyn, Die Leon Shaw Sindikaat, DJ Ossewa, Karin Ferreira, Gerd Roetz, Gerrie Pretorius, Jennifer Zamudio, Lee Vaugh, Melandri, Pieter Naude, Henri Alant en Raymond Ray. My tegnieke was redelik dieselfde vir die verskillende kunstenaars, maar elke kunstenaar reageer anders op ‘n kamera, en om ‘n band af te neem gee ander moontlikhede as wanneer jy ‘n solokunstenaar afneem.  Daar is ‘n paar tegnieke wat ek gebruik om ‘n goeie foto te kry. Een van die belangrikste is om te doen wat ek noem “soek na die lig”.  Wit lig is die beste, so as daar wit ligte is wat op die onderwerp skyn, wil jy probeer on ‘n hoek daarop te kry. Nog iets wat ek soek is die corona-effek wat beligting van agter vir ‘n profiel gee. Lig deur die hare is pragtig, en lug teen ‘n profiel skep ‘n goeie onderwerp wat skerp in fokus kan kom. As jy egter teen die lig in neem, maak seker dat jy ook ondersteunende lig van oor jou skouer kry sodat jy nie net met ‘n klomp donker profielfoto’s opeindig nie.

Jy moet fokus my kind

Ek probeer ook om altyd handmatig te fokus. Dit gee my ‘n kans om te eksperimenteer met verskillende velddieptes Jennifer Zamudio(Depth of field). So kan ek byvoorbeeld drie skote neem van iemand wat kitaar speel. In die eerste foto fokus op die regterhand, die tweede fokus ek op die snare in die middel van die kitaarnek, en die derde fokuspunt dan die linkerhand. Dit gee jou meerdere interessante opsies om te verken. Nog ‘n aspek van fokus om op te konsentreer (soos met portretstudies) is die oë van die kunstenaar.  Dit is heelwat moeiliker as in portretstudies, omdat jou onderwerp gewoonlik nie stil staan nie, en omdat hulle jou nie kans gee om jou fokus reg te kry soos in ‘n studio-opset gebeur nie. Dus is ek geneig om die heel tyd rond te speel met fokus wat impliseer dat outofokus gewoonlik nie die ding sal doen nie. Die koue realiteit is dat omdat jy so ‘n dinamiese onderwerp fotografeer, werk die reels wat gewoonlik van toepassing sal wees op konvensionele portretfotografie gebuig kan en miskien moet word, so ek gooi nie foto’s weg wat nie die oë as die fokuspunt het nie, omdat daar so baie ander interessante dinge met mense se liggame gebeur wanneer hulle sing en instrumente bespeel. As ek moet kies tussen lig en oë, kies ek elke keer lig.

Komposisie

Nog ‘n aspek om te oorweeg wanneer jy kunstenaars (of enige ander lewende wese) fotografeer, is om ruimte toe te laat voor die onderwerp om in te beweeg. Wanneer die onderwerp se neus teen die een raam gedruk is met spasie agter die kop, lyk dit vreemd. Nou vat jy dieselfde foto, en jy los spasie voor die persoon se gesig in ‘n profiel, en jy het ‘n pragtige komposisie. Met sangers is dit gewoonlik makliker, omdat jy die hele mikrofoon ook in die foto wil kry. Dit geld egter vir wildfotografie, portretstudies en ander onderwerpe. Selfs as jy ‘n motorfiets of motor in profiel wil afneem, is die foto baie meer gebalanseerd as jy spasie voor die onderwerp toelaat. Ek probeer ook baie keer hoogte varieer wanneer ek foto’s neem. Om byvoorbeeld van baie naby aan die grond ‘n foto te neem met ‘n wyehoeklens is ‘n baie effektiewe manier om ‘n vars hoek te probeer kry op dieselfde onderwerp. Een van die sleutels tot interessante foto’s is om daardie ongewone hoeke te soek. As ‘n verhoog byvoorbeeld ‘n sg. Catwalk het sodat jy bo die kunstenaars kan kom kan dit ook tot interessante komposisie lei.

Kontak maak mooi foto’s

Uiteindelik is dit baie handig om die kunstenaars te ken voor jy hulle fotografeer. Baie kunstenaars het sekere dinge wat hulle nie van hou nie (soos flash fotografie, of seker hoeke waarteen hulle nie fotografeer wil word nie). Een van die hoof redes daarvoor, is egter dat ‘n kunstenaar wat gemaklik met jou teenwoordigheid is jou betrokke maak by hulle show en kontak bewerkstellig met die kamera. Dit gee meer intieme foto’s en dan maak die kusntenaar kontak met die person wat na die foto kyk. Ongelukkig is dit nie altyd moontlik om kontak met die kunstenaar te bewerkstellig nie. Dit is maar deel van mense se persoonlikhede en ons moet daarmee saamleef. Die realiteit is dat mense wat jou ken die beste foto’s maak omdat hulle kontak met jou deur die person wat na die foto kyk ervaar word.

Die Vertonings

Laat ons eers meer gesels oor die vertonings Saterdag. Die vertonings was Saterdag so verskillend soos die musikante.   Daar is verskeie kunstenaars wat my regtig opgeval het, so ek sal net ‘n paar uitlig wat vir my interessant was.

 Karen Ferreira het my weereens beindruk met haar energie op die verhoog. Sy gooi haar hele lyf agter haar musiek in en sy het ‘n massiewe stem. Sy verstaan stemprojeksie soos min kunstenaars, en haar vertoning was ‘n plesier om te fotografeer. Daar is so baie aspekte en nuanse aan wat sy doen dat ek baie foto’s geneem het om verskillende aspekte van haar vertoning te probeer vaslê.

Gerrie Pretorius het my werklik verbyster. Ek is ‘n ou fan van swing en was nooit ‘n fan van Bles Bridges nie. Gerrie Pretorius in die VIP areaEk sê dit vir ‘n rede. Ek het Gerrie getipeer uit televisie uitsendings as ‘n musikant wat vir my gemaklik gekategoriseerbaar is binne die twee stereotiperings. Realiteit – soos byna alles wat ek probeer stereotipeer is ek weer verkeerd bewys. Gerrie is ‘n sjarmante vermaakkunstenaar wat my as musiekliefhebber aan sy voete gehad het. Hy vermaak, kommunikeer, lok reaksie uit en sing. Ongetwyfeld sing. Hy is gemaklik in van die meer klassieke style soos swing, maar ook in meer kontemporêre musiek. As fotograaf was hy saam met Karen Ferreira die maklikste om af te neem. Dit is merkbaar uit die hoeveelheid foto’s wat ek van albei geneem het. Karen 326 foto’s en Gerrie 493. Die ander aspek wat ek werklik van Gerrie waardeer het, was sy gesindheid in die VIP area. Kyk gerus die foto om te sien wat ek bedoel.

Dit was die eerste keer wat ek Jennifer Zamudio sien optree het, en ek moet sê dat ek dink sy baie meer sukses verdien as wat sy tot nou toe gesmaak het. Sy is ‘n veel beter musikant as wat haar huidige profiel in die mark weergee. Weereens ‘n goeie onderwerp om te fotografeer.

Gerdt Roetz was weer vir my ‘n plesier om na te luister. DIt is die Gerd Roetzderde keer wat ek hom sien optree. Die eerste keer was toe hy nog as Rooi Willie opgetree het – ek het hom gesien by die Blou Hond toe hy oopgemaak het vir Jan Blohm. Die tweede keer was twee maande gelede toe hy by Liedjieboer opgetree het met hulle maandelikse akoestiese gig. Ek het baie lekker gekuier saam met Gerhard en sy vroutjie, en sal regtig moeite doen om nog van sy shows te sien. Kom kyk op die aand van die 25e September by die Liedjieboer – Julle sal hom daar kan hoor en sommer as ‘n bonus sal julle Murg lewendig sien optree.

Die verrassing van die dag vir my was ongetwyfeld die vertoning van die Leon Shaw Sindikaat. Dit is ‘n driestuk met kitaar, bas, percussions/dromme met Leon as die hoofsanger wat ook dromme speel. Baie tight band met uitstekende vaardighede. Hul musiek werk ook vir my, en die gehoor het ook baie goed reageer op die musiek. Hulle meng oorspronklike Afrikaanse musiek met vertolkings van treffers, en hulle het definitief vir my gewerk – beide van ‘n tegnies-musikale/ vertolkingsoogpunt as van ‘n vermaaklikeidsoogpunt. Ek sal moeite doe nom hulle weer te hoor.

@@@@@@@@@@@@@@@@@@@ INSETSEL GESENSUREER @@@@@@@@@@@@@@@@

Raymond Ray het weer sy ding gedoen – die outjie kan sing. Ek glo hy sal saam met sy bestuur Raymond Ray‘n manier kry om sy loopbaan verder te ontwikkel en ‘n breër gehoor te bewerkstellig as die redelik beperkende genre waarin hy nou beweeg – hy kan. Aan talent ontbreek dit nie.

Die ander musikante was nie vergeetlik vir my nie, maar wat hulle gedoen het, het nie werklik tot my gespreek o penige vlak nie. Henri Alant is bir my ‘n bietjie te voorspelbaar binne die sokkie genre, Lee Vaughn het nog werk om te doen voor hy vir my sal uitstaan bo die massa opkomendes, Pieter Naude is nog steeds maar net Juanita du Plessis se broer en dan die nuweling Melandri met haar eerste regte openbare vertoning het maar bewerig begin maar toe sy eers haar bene kry, het sy vir my goed gedoen. Ek sien uit om haar wer op ‘n verhoog te sien Ek wens almal van hulle die beste toe met hul sangloopbane.

Sondagmiddag het Murg gespeel by Rafters in Pretoria, en dit was ‘n witwarm gig. EK het ‘n ou skoolvriend van my – Albie Eager raakgeloop daar. Ek het hom gladnie herken nie, maar hy het my wel herken. Ek weet nie hoe nie, maar hy het dit reggekry. My ou vriende Gerhard en Angie Kleijn het ook vir Murg kom ondersteun en dit was regtig lekker. Soos ek se, het die band gekook, en Shannon het himself uitsonderlik goed van sy taak gekwyt op dromme. Dit help regtig om ‘n drommer te he wat so groove.

Die res van die week was maar besig. Ek het gister en eergisteraand spandeer aan foto’s uitsorteer en skryf nou al amper twee aande lank aan hierdie bloginskrywing. Miskien sal meer gereelde korter inskrywings die problem oplos.

 

Tot Kyk

 

-Gideon-


Gideon van Zyl Written on Wednesday, 09 September 2009 18:06 by Gideon van Zyl

Viewed 1831 times so far.

Rate this article

(5 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Add New Search RSS
Write comment
Name:
Email:
 
Website:
Title:
 
:angry::0:confused::cheer:B):evil::silly::dry::lol::kiss::D:pinch:
:(:shock::X:side::):P:unsure::woohoo::huh::whistle:;):s
:!::?::idea::arrow:
 
Please input the anti-spam code that you can read in the image.

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 34 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za