Sunday, May 20, 2012
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Volksblad Fees - 'n Eerste

O ns het die afgelope naweek Bloem toe gegaan om die Volksbladfees te gaan bywoon. Niks grends nie - net as gewone feesgangers. In die week het iemand my egter gevra of ek nie belangstel om by die ABSA Wyntenk op te tree nie. Gratis. Okei - ek dink toe mos dat aangesien ek in elk geval daar sal wees en geen koste hoef aan te gaan om weer daar uit te kom nie, sal ek maar instem om die baksjeesh te gaan doen. Ek kan natuurlik nie sulke advertensie koop nie. Daar is ongelukkig ook 'n hele paar dilemma's wat die besluit gevolg het, want daar is natuurlik nie so iets soos 'n free lunch nie. My dilemma's sentreer om my bende wat ek uiteraard nie kan bekostig om saam te vat na die ding toe nie. Na sorgvuldige navorsing het ek ook agtergekom dat nie een van my bende by die plek gaan wees nie en dus het ek 'n besondere swaar besluit om te neem - gaan ek optree met net my kitaartjie of gaan ek die backtrackbende volg en myself van van my dierbare vriende vervreem? Onder swaar protes van Liefie, het ek toe besluit om liewer waaghalsig te wees en die argwaan van sommiges te vermy en as kompromis met twee kitare gery na Bloem toe. Mens kan altyd ander gigs kry, maar vriende is moeiliker om te vervang.Die trippie was eintlik baie lekker. Ons het met die bakkie gery, en Dante en Ruby het ook saamgegaan. Ons het so 'n bietjie getwyfel of ons Ruby moet saamvat, want haar hok is 'n bietjie groot en sal dalk omtiep in die bakkie, en soos sommige van julle sal weet, is daar niks wat 'n African Grey so ontstel as om hulle  teen hulle sin van rigting te laat verander nie. Oplossing was dat ek 'n stewige laer hok vir haar gekry het. Sy het nie noodwendig gehou daarvan dat die bakkie op en af gaan oor knikke in die pad nie, maar sy het gou haar reisbene gekry. Die swaar ding was om vroeg in die oggend op te staan vir die pad. Ek wou so teen 10-uur al in Bloemfontein wees om van die shows te gaan kyk, maar om so vroeg op te staan is nie geneties kodeer in ons familie nie, so ons het uiteindelik eers na 5 in die oggend gery. Uiteraard het ons eers na 10 in Bloem aangekom, want daar moes eers gestop word vir ontbyt.  In Bloem het ons ingeklok by die gastehuis - Duinerus (of so iets). Dit is 'n baie gawe konsep. Dit is 'n selfhelp gastehuis wat 'n selfonderhoudende eenheid het met drie en suite slaapkamers en 'n kombuis wat alle nodige inhet vir 'n kontinentale ontbyt. Vir twee slaapkamers het dit ons 'n skamele R 300 gekos vir die nag. Ek weet nie hoe hulle by Duinerus uitgekom het nie, want so ver my wete strek is die see nogal ver van Bloemfontein af en is Global warming nog nie so erg dat daar vir die afsienbare toekoms duine in Bloem voorspel word nie, maar nouja - mens moet seker elke persoon hul ou plesiertjie gun.Aangekom by die kampus moes ons eers rondsoek na die plek waar ek moes optree. Ek het hierdie ding aan my dat ek eers 'n plek 'n bietjie wil uitkyk voor ek daar optree, so ons het rondgedwaal tot ons uiteindelik die ABSA Wyntenk opgespoor het. Toe ons daar aankom was ons betyds om net die laaste paar minute van die wedstryd tussen die Bokke en die All-Blacks te sien. Ons het opgedaag net voor Ricky January DAAI drie gedruk het. Toe is dit net vasbyt vir die einde, waarna ek gaan rondvra het wat aangaan. Eerste persoon met wie ek gesels het is toe Chris van Niekerk (Francois van 7e Laan vir die van julle wat - soos ek op daai stadium - nie weet nie). Ek vra hom toe of hy die klank doen. Hy vertel my toe nee, ek moet met Corne praat. Nouja - ek weet nie of julle al ooit deur die oefening gegaan het om in 'n wildvreemde plek iemand te probeer identifiseer wat na Corne lyk nie, maar dit is nogal moeilik. Ek het toe maar rondgehang en enigiemand wat lyk of hulle weet wat hulle daar doen gevra of hulle Corne is, en uiteindelik het ek hom op gespoor by die mees logiese plek - agter die klankmengbank. Die volgende missie was om die organiseerder - Nelius op te spoor. Gesien my onlangse sukses met die opspoor van Corne, het ek besluit om weer vir Chris te vra of hy weet waar ek vir Nelius kan opspoor. Hy neem my toe op 'n warrelwindtoer van die plek en uiteindelik het ons Nelius opgespoor waar hy buite staan en gesels het met iemand. Raaait!! Ek is toe mooi uitsorteer en het presies agtergekom wat is waar en hoe werk alles.  Toevallig ken ek ook al vir Nelius. Hy is in my Dubai-dae aan my voorgestel deur Lydia. Dit beteken natuurlik dat ons toe kon begin konsentreer op die dinge wat belangrik is, naamlik om die fees te geniet.  Eerste op in die Wyntenk, was Catherine Jones. Nou, as julle nie weet wie Catherine Jones is nie, het julle 'n gat in jul onderskeie opvoedings. Sy is 'n jong kunstenaar met groot skryftalent en 'n stem soos wat mens nie sou verwag uit so 'n klein mensie nie. Groot stem, maar modern groot - nie outyds groot nie. Sy het haar tweede album onlangs bekend gestel (in Afrikaans), en ek weet dat ons baie meer van haar sal sien oor die volgende paar jaar. Luister uit vir haar - sy sal julle oortuig. Na haar was dit maar vaal in die Wyntenk, so ons het ons dingetjies agtermekaar gekry en na die gastehuis gegaan sodat ek reisvuil kon afstort en my hare kam. Teen half drie was ons weer terug by die Wyntenk. Die keer het ons ons pad geken en die kunstenaar kenteken wat Nelius vir my gegee het, het ons toegelaat om reg voor die deur van die Callie Humansaal te parkeer. Ek het kitare uitgelaai, hulle ingestem en toe was ek soort van reg vir my eerste regte optrede op Suid-Afrikaanse bodem sedert 1998. 'n Bietjie vroeg. Nouja, dan maar uithang in die musikante se backroom waar ek van die ander musikante ontmoet het. 'n Redelike gawe spul - soos sommige mense maar is. 'n Paar stywe nekke en groot ego's, maar dit is ook maar soos dit maar gewoonlik is. Die ander openbaring van die dag (na Catherine) was 'n jong man van Kroonstad wat ek ontmoet het. Met 'n naam soos Thabo kan jy natuurlik verwag dat hy groot aspirasies het, maar jel - kan die man sing! Ek bedoel Afrikaanse klassieke goed van Ge Korsten en andere, maar sooo ontspanne op en af van die verhoog en met 'n positiewe gesindheid soos min mense.  Indrukwekkend, maar sonder die ego. Ek hoop hy bly net soos hy is, want dan gaan hy die Suid-Afrikaanse en die Afrikaanse mark vir altyd help verander.  Uiteindelik was 3:30 daar. Ek was vrek senuweeagtig, maar natuurlik is daar nie kans vir sulke goed as jy op 'n verhoog klim met 'n gehoor van... twee mense nie. Susan en Dante was darem daar. Nou dit was nie noodwendig so erg nie, want ten minstens sal hulle my nie van die verhoog af boe nie, maar nog steeds. Okei - daar was 'n groot skare mense aan die kante van die saal besig om wyn te proe. Dit op sigself is redelik belowend, want as mense genoeg wyn geproe het sal hulle na enigiets luister en selfs miskien met entoesiasme hande klap. Ek begin toe met "Liriek" om myself 'n bietjie kans te gee om in te settle en my stem kans te gee om op te warm. Wel - belowend - 'n paar mese het hul wyn saamgebring en by van die tafeltjies voor die verhoog kom sit. 'n Paar het selfs hande geklap. Toe is Susan weg! Jel! - my enigste van twee bekende gesigte het verdwyn! Okei - sy was net besig om die fotograaf te speel en het foto's kom neem van nader. Nouja - ek ken die songs en ek gaan toe maar aan met my halfuur, en soos ek aangaan is daar meer mense wat kom luister en ook van die kante af begin mense hande te klap. Aan die einde van die halfuur het ek afgeeindig met "Afrikadag" en soos ek my kitaar begin afhaal kom Chris to op die verhoog en vra my of ek nie nog 'n halfuur wil doen nie. Probleme!! Ek het net genoeg voorberei vir 'n halfuur. Okei, ek het nog twee Afrikaanse liedjies wat ek geskryf het en dan twee Ingilse songs ook wat ek mee kan werk, en dan sal ek moet terugval op standards van my rockband-dae. Nouja - alles gaan toe goed en uiteindelik is ek onder redelik entoesiastiese handeklap van die verhoog af. Ek het selfs 'n paar ceedee'tjies verkoop, so darem het ons 'n bietjie swietsgeld gemaak vir die pad huistoe. Half ses het ons na een van my gunsteling mense in die hele wye wereld se show gaan kyk. Daar is min wat mens kans kry om Karin Hougaard op 'n verhoog in Suid-Afrika te sien, so ons het haar Hartstukke produksie gaan kyk. Hartverskeurend, oplugtend, sielsondersoekend mooi. Daai girl het meer talent in haar kleintoontjie dan die helfte van die huidige swetterjoel Afrikaanse kunstenaartjies saam. Sy is werklik deel van ons musiek-adel. Na die tyd was daar kans om vinnig te klets en na 'n vinnige draai weer by die Wyntenk is ons huistoe met 'n paar bottels Muskadel. Gisteroggend het ons na 'n rustige ontbyt so teen tienuur vertrek en ons was heel gemaklik gistermiddag by die huis. Almal beter vir die ervaring, maar lekker moeg. Wat 'n vervelige einde aan 'n lekker naweek :).Groete-- -Gideon-

Gideon van Zyl Written on Monday, 14 July 2008 14:01 by Gideon van Zyl

Viewed 919 times so far.

Rate this article

(0 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Add New Search RSS
Write comment
Name:
Email:
 
Website:
Title:
 
:angry::0:confused::cheer:B):evil::silly::dry::lol::kiss::D:pinch:
:(:shock::X:side::):P:unsure::woohoo::huh::whistle:;):s
:!::?::idea::arrow:
 
Please input the anti-spam code that you can read in the image.

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 33 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za