Die Verloop van die Week
Sunette Bridges se video op Jukebox
Dus – kom ons gesels oor die laaste week. Verlede week en Donderdag sit ek en pla niemand nie toe ek ‘n oproep ontvang om te hoor of ons dalk bestaande footage kan edit om ‘n video vir iemand te maak en hoeveel sal ons daarvoor vra. Ek kwoteer toe maar, en ‘n rukkie later kom daar nog ‘n oproep om te vra hoeveel sal ons vra om ‘n bietjie kamerawerk saam te doen. Stywe tydlyne. Nouja lang storie kort het ons Donderdag die footage gekry en besluit om Saterdagoggend nog footage by te skiet. Teen Maandag het David die eerste preview gedoen, teen Dinsdagmiddag die finale preview en Woensdag is die video’s ingehandig by Kyknet om Sondagaand op Jukebox gewys te word. Dus hekties. Kyk Sondagaand op Kurt Darren se Jukebox uit vir Sunette Bridges se geselsie en vir haar eerste video van haar nuwe cd. You go girl!!
Voordat julle jul volgende musiekvideo wil maak, gesels met my. Ons sal iets cools vir julle kan versin. En vinnig ook as dit nodig is. Ek dink dat drie dae van die oomblik wat die laaste footagegeskiet is totdat die video afgeteken is is gladnie sleg nie.
Karen Zoid by die Liedjieboer
Vrydagaand het ons lekker gekuier op Karen Zoid
se musiek. Soos gewoonlik het sy weereens verbyster met haar show. Driestuk, haar bekende liedjies en ook minder bekendes, en dan ook haar lekker vertellings tussendeur. Daar is nie regtig baie om te se nie – sy is volgens my maklik een van die top liedjieskrywers in die land. In Afrikaans en Engels.
Tjailatyd Heidelberg se opening
Dinsdagaand het ek die opening van die nuwe Tjailatyd in Heidelberg bygewoon. Ek hou van die plek. Daar is ‘n ambiance tussen ‘n restaurant en ‘n kroeg en daar belowe om baie live musiek gespeel te word. Dinsdagaand het die girls van Marnet en Pieter Smith ons vermaak, en dit w as ‘n goeie paartie daai. Ons het kans gehad om lekker saam met ‘n hele paar van ons vriende te kuier en ook nuwe vriende gemaak. Sien nog foto’s onder aan die bladsy.
Ernstiger Dinge en Besluite
Tegnologie en die herdefinisie van die formule
Die week het ook baie gestaan in die kader van tegnologie. Ons is besig om
‘n paar tegnologiese idees te versin en bene te gee. Hou die spasie dop oor die volgende paar weke vir meer inligting. Die eerste ding wat ek wel kan verklap is dat ons webwinkel binnekort in die lug gaan wees. Stap nommer een in ‘n weldeurdagte strategie is besig om vorm te neem. Ek kan nie te veel daaroor se nie, maar at wel verseker is, is dat daar meer mense vir my kwaad gaan wees soos my strategie ontplooi as op die oomblik, maar niemand van hulle gaan musikante wees nie, want dit is waar my simpatie le.
Daar is ‘n formule wat op hierdie stadium in die musiekindustrie bestaan wat heeltemal nie in die guns van die musikant self is nie. Mense het ‘n idée dat ons musikante in weelde leef omdat ons op ‘n verhoog kan staan en sing of musiek maak en ons cd’s in winkels verkoop. Die realiteit is dat die gemiddelde musikant minder as 4% sien van die prys wat die publiek betaal vir die cd. Die verkoopsprys van ‘n cd word op so baie maniere gesny en onderverdeel dat niemand uiteindelik geld maak daaruit nie behalwe die platebase. Die rede daarvoor is dat ons industrie slaafs navolg wat vantevore gebeur het. Almal dink dat daar net een manier is om dit te doen.
Ek dink daar is ‘n ander manier. Ek dink dat daar ook nie ‘n beter tyd is om ‘n nuwe formule te definieer as nou nie.
Welkom in die kritieklose industrie
Gepraat van musikante. Ek het die afgelope week weer ‘n interessante fenomeen gesien in
Suid-Afrikaanse musiek. Ek noem dit maar die intolleransie van kritiek. Ek het al begin wonder waarom daar so min vooruitgang geboek word so ver dit die vooruitbeweeg van Afrikaanse musiek aanbetref, en het nou tot die konklusie gekom dat dit is omdat ons Afrikaane musikante - of liewers hul platebase, agente, mediaverteenwoordigers en pletora van ander gesante – glo dat kritiek hulle op een of ander manier swakker maak. Dit is ‘n baie interessante verskynsel wat ek oortuig is nie in die belang is van die publiek of die musikante self is nie. Ons het ‘n groepie selfgelukwensende musikante wat vir mekaar glimlag in die backstage, die mooiste dinge van mekaar se in die publiek en wanneer ons mekaar by funksies raakloop. Ons sjarrap egter liewers omdat ons bang is ons gaan iemand offend en dat hulle ons in die toekoms gaan uitsluit uit die spasie waar ons en hulle saamwerk. Die musikante wat wel braaf genoeg is om dit te doen word dan bestempel as jaloers, as nydig, as verbitterd en ‘n pletora van ander skeldname. Mense het bloedvetes met mekaar vir jare oor die simpelste dinge.
Dit is waarom ons industrie in die moeilikheid is. Ons as musikante is nie bereid om eerlik genoeg met mekaar om te gaan nie en dus kan ons nooit verbeter nie. Ek doen ‘n terrible show by ‘n plek en weet dit was swak, dan kom ander musikante na my toe en wens my geluk met wat ek gedoen het. Ow! Ek weet dit is vals, so kom eerder na my toe en se vir my dat daar is ‘n paar areas waar ek iets kan doen. Ons koop iemand se cd, en beskou tien van die twaalf liedjies as swak, maar as die ander kunstenaar ons daaroor vra dat is dit net duime in die lug. Meanwhile back at the ranch vertel ek vir almal wat bereid is om te luister dat so-en-so die plot nou heeltemal verloor het.
Die Vervlakking van Afrikaanse musiek
Ons is tot so ‘n mate besig om musiek te “dumb down” om geplaylist te word deur ons groot radiostasies dat ons nie net ons publiek verloor nie, maar ook mekaar erens misloop. Ons skaal so af om meer bekostigbaar te wees dat ons ons drome nie meer najaag nie. Ons begin met drome om wonderlike liedjieskrywers te wees en goeie musiek met regte instrumente te maak, maar eindig op om op gratis verhoe by feeste te sing op backtracks. Dan sing ons nie ons ongelooflike songs wat ons passie en verbeelding uitdruk nie, maar dit wat die industrie op een of ander manier besluit nou eintlik is waarna die gehoor wil luister.
Ons sing liedjies wat volgens die voorskrifte van ons platemaatskappye gekonstrueer is om die “teikenmark” te probeer bereik. Daardie teikenmark word gedefinieer deur ‘n groep mense wat jou die leser bestempel as “die tipiese Afrikaner”. Jy word deur die platebase en deur die besluitnemers beskryf as “tussen dertig en sestig, sonder universiteitsopleiding, ry ‘n motor wat minstens tien jaar oud is en so kommin is soos grond”.
RUBBISH!!
Die Afrikaner is intelligent, vooruitstrewend, het ‘n wil en vasbyt soos min en is die bes opgevoede in opgeleide groep mense in Afrika. Nou vertel my – waarom mag ek nie musiek skryf vir jou nie?
Nou kom ek vertel vir julle ‘n geheim. Meeste liedjies wat vandag uit die hitfabrieke uitgerol word in Suid-Afrikaanse musiek, is swak vertalings van verlede Somer se hits uit Nederland en Duitsland. Waarom? Want dit is wat die platebase dink sal verkoop, en dit verkoop, want dit is wat hulle opdis aan Kyknet, RSG en die res van die media. Twee derdes van die musiek wat ons op feeste moet hoor se royalties word na liedjieskrywers in ander lande verskeep terwyl ons eie plaaslike liedjieskrywers se uitstekende werk nie opgeneem word nie. Wanneer dit wel opgeneem word, word hul tantieme baie keer nie eens uitbetaal aan hulle nie. Ouch eina en dit is ‘n blerrie skande.
Besluite
Dus my besluite:
1. Ek wil nie in ‘n kretieklose, vlak industrie wees wat my taal en my mense verneder deur neer te kyk op albei, en dit net wil gebruik vir eie gewin om vooruit te gaan nie. Daarom wil ek saam met ander wat ook verandering wil sien werk daaraan om die industrie te verander. Van binne af.
2. Ek stel nie belang in ‘n platekontrak teen 8% van PPD waarin en die produksiekoste moet terugbetaal voor ek wins maak daaruit nie. Die musiek word gemaak deur musikante, nie deur platebase nie. Ek wil sien dat die musiekindustrie verander in ‘n vennootskap tussen musikante en die mense wat hul musiek by die mark uitbring. Ek sal saam met ander musikante opstaan teen die mense wat hul onregverdig behandel en indien nodig in samewerking met die pers die publiek bewus maak van die onregverdige en oneerlike praktyke wat plaasvind in die industrie.
3. Ek stel nie belang om die grootste Duitse of Nederlandse treffers van die laaste veertig jaar te sing op ‘n backtrack nie. Ek gaan goeie oorspronklike musiek skryf en sing wat vir my goed is, en dit lewensvatbaar maak om met regte musikante op te tree. Ek sal ook alles moontlik doen om ander musikante wat braaf genoeg is om die norm te verskuif te ondersteun – hetsy deur dienste, aksies of deur deure te help oopmaak by die media.
4. Ek is nie bang vir die bullebakke van die industrie nie. Ek sal van hier af enige pogings om my te neutraliseer in die mark op hierdie blog bespreek, en indien moontlik blootle in die nasionale media en pers. Ons musikante is te lank manipuleer.
BAIE BELANGRIKE VOETNOTA: Let wel dat die inisiatiewe waarmee ek besig is nie gemik is op musikante in enige genre nie. Deur te se dat ek nie op backtracks wil optree nie, wil ek nie se dat ek problem het met sangers wat backtracks gebruik nie. Ek is weldeeglik bewus daarvan dat musikante deur omstandighede gedwing word om backtracks te gebruik en dat dit in sommige gevalle hul keuse is om backtracks te gebruik. Ek is ook weldeeglik bewus dat sommige musikante op hul platemaatskappy se aandrang sekere genres sing. Andere kies weer van self om in daardie genres te sing. DIt gaan alles oor keuse en voorkeure. Ek wil alleen maar sien dat die keuses wyer word en nie afgedwing word op ‘n publiek en musikante nie. Ek hou nie van sokkie musike nie. Ek hou ook nie van Heavy metal nie, en ek hou ook nie van R&B nie. Dit is my keuse. DIt beteken nie dat ek enige kunstenaar in enig evan daardie genres disrespekteer nie, ek sou net wou sien dat hulle alnal die keuse het deur due markomstandighede t everbeter dat hulle nie in ‘n genre vasgevang word deur ekonomiese druk of druk deur hul platebase of managers nie.
Dus as jy wil bydra om die mark te verander, bel my by 0711775571, stuur vir my ‘n e-pos by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of lewer kommentaar op hierdie plasing. Jy kan ook anoniem bly in jou gesprek ke as jy wil.
Ek soek idees, en sal met enigeen saamwerk wat dit ten doel het om weer Afrikaanse musiek uit te bring by die plek wat dit verdien.
Tot kyk
-Gideon-







Junk Mail has posted a warning about ...
Sorry, maar hierdie is nie die koeran...
angry: dis nabsolite kak koerant en ...