Dit klink ‘n bietjie soos my finansies. Ek is ‘n bietjie outyds met my finansies. Ek hou nie van skuld nie, en ek hou nie daarvan om te veel geld uit te gee op ‘n lukrake manier nie. Nie dat dit my noodwendig keer om skuld te maak of om geld uit te gee nie. Ek het net die lawwe manier om myself te oortuig dat ek iets regtig nodig het waar dit later blyk dat ek dit nie regtig so nodig gehad het nie. Dan is daar die tipe van uitgawes wat my regtig dwars in die krop steek – die tipe waarvoor ek nie beplan het nie. Hulle is die ergste, want dit is die tipe uitgawes wat in jou neseier of jou leefstyl inbyt. So het ons hierdie maand uitgawes in elke kategorie. Ons het ‘n nuwe cd begin opneem, dus moet ek betaal vir studiotyd – drie dae = ‘n paar Rand. Ons het ‘n goeie deal en ek kla nie daaroor nie, maar dit gaan tog by die deur uit en kom nie gou terug nie. Dan was ons afgelope naweek na Skoonma in Middelburg toe – diesel, kos, versnaperinge lags die pad = nog ‘n paar Rand. Ek het ‘n goeie prys gekry op ‘n snake vir die band – ek het dit nie nou nodig nie, maar ek gaan dit binnekort nodig kry – ‘n hele paar Rande . Die Mazda moet dringend by ‘n hartspesialis uitkom vir ‘n mis – Aag jeremia tog – waar gaan die geld vandaan kom? Die 50 t-emde vir Murg moet gedruk word - nog 'n paar Rand. Dit hou net aan en aan. Ondertussen is betaaldag nog ver en ek kyk na my bankrekening… skrikwekkend hoe vinnig geld kan verdwyn al het jy die beste van bedoelinge. Ek het geen idee hoe mense kan oorleef om klein salarissies nie. Hoe kan iemand oorleef wat hul werk verloor of wat “afgeskaal” is? Dan kry ek gelukkig kans om te dink oor hoe dankbaar ek moet wees dat dit so goed gaan met my en my gesin.
Dit is goed om na te dink. Ek dink oor hoe goed dit gaan met my en Murg se loopbane. Ek noem die twee apart, omdat die band - Murg - se profiel vinniger groei as myne. Ek het nie ‘n probleem daarmee nie, omdat dit baie meer geword het as my idee wat ek rondom die konsep versin het. Ek kan nie kla nie omdat die luukse daarvan om beide iets vir myself te doen en iets vir die mense te doen (sonder kompromie) ‘n luukse is wat meeste musikante nie het nie. Gideon kan konsentreer op musiek wat hy regtig wil maak sonder om bekommerd te wees oor die vlak van kommersialisme wat nodig is om dit finansieel te kan haalbaar maak terwyl Murg kan konsentreer daarop om kommersieel suksesvol te wees sonder die bagasie van kreatiewe… arrogansie of eksklusiwiteit. Gideon kan ‘n cd maak sonder om die kommersiële dier te wil voed – "so what" as hy net vier gigs ‘n maand kry en dit vir klein gehore. Dit gaan suiwer om kuns. Murg kan ‘n cd maak sonder om hulself te steur aan die kritici. Dit gaan suiwer om entertainment. My lewe word steeds voller en beter.
Daar is ook ander dinge waaraan ek kan dink. Ek is nou 24 jaar getroud met my Susanna.
Dierbare meisiekind wat sy is, sit sy geduldig opgeskeep met my geite. Met my goeie tye en slegte tye. Met my dae waar ek in my kop leef en my dae waar ek die wêreld probeer verander in ‘n dag. Sy leef saam met my stiltes wanneer daar ‘n lied in my kop uitbroei, en sy leef saam met my feestelikheid wanneer ek net erens wil wees waar daar mense en musiek is. Dit is goed. Ek het geen idee waar ek sou wees op hierdie stadium van my lewe sonder haar by my nie. Dit is ook sekerlik nie so belangrik as om in die oomblik van nou te lewe en elke ademteug te geniet en te beleef nie. Saam. Ek hoop en bid dat ons saam grasieus kan oud word. Sy miskien meer grasieus as ek. Sy het dit in haar.
Ons het twee talentvolle en kreatiewe seuns – ek wil nou nie soos ‘n Pa klink nie, maar hoor hier – ek is ene. En ‘n trotse ene. Ek sien soms die wrywingspunte tussen ons, en is gewoonlik te dom om dit op ‘n elegante manier te hanteer. Ek verstaan nie die resepte nie… o ja - ek het vergeet dat daar nie regtig resepte vir kinders grootmaak is nie. Maar ons moet daaroor nadink, en wanneer ons wag is ‘n goeie tyd daarvoor.





Junk Mail has posted a warning about ...
Sorry, maar hierdie is nie die koeran...
angry: dis nabsolite kak koerant en ...