Donderdagaand het ons ’n laaste oefening gehad vir die korporatiewe gig wat ons Vrydagaand vir SACC in Centurion gedoen het. Dit was ‘n bietjie van ‘n wilde tydjie om gereed te kry omdat Erika Strydom (wat vir Jannie ingestaan het in sy Innibos afwesigheid) eers op spoed gebring moes word met ons musiek.
Die Vrydagaand was ‘n interessante gig, en Erika het baie goed vir ons gedoen. Ons het met twee spelers kort (Jannie en Jacques) wel ‘n ander klank gehad, maar dit was pret. Ons het die eerste uur of so rustig akoestiese musiek gespeel en na ons break met dromme en die hele werke aangegaan. Die musiek was goed ontvang, hoewel dit ‘n redelike stil skare was. Dit is te verstane, want die gig was buite en dit was vrek koud!
Die lekker ding is dat hulle ‘n hele klomp verskillende soorte sop gehad het. Interessante soppe. En Gluwine.
Saterdag het ons natuurlik die rugby gekyk, en ek wil regtig nie nou oor rugby praat nie, want dit ons begin binnekort weer met die Drienasies en dan verveel ek julle van voor af met my amateur analise. Net dit – Div se droom agterlyn het maar vir my flou gelyk. Eerder ‘n nagmerrie as ‘n droom. Op verdediging was hulle nie skerp genoeg nie, en op die aanval kon hulle nie hond haaraf maak nie. Dit het gelyk soos ‘n span wat nie kon gel nie as gevolg van te min speeltyd saam – ‘n tipe van herhaling van Div se “alle vervangers op die veld” roep van die eerste toets.
Dit het ook vir my gelyk asof die Lions die heeltyd weggekom het met redelik liberale interpretasie van die onkantreels. Al wat ‘n losgemaal reel is, is ook redelik vry interpreter om maksimale besit vir die toeriste te verseker.
Okei – ekke praat nie rugby nie…
In die Studio saam met Riku
Saterdag na die game het ek en David in die bakkie gespring en gery na Riku Latti en Dorette Potgieters se plaas-plekkie in die Magaliesberg. Helaas was dit nie ‘n sosiale besoek nie, maar ‘n baie ernstige musiek-verwante besoek.
Ja, ons het begin met die opname van die nuwe album. Ek het al ‘n paar maande gelede verduidelik wat die idee is, maar dit is eintlik half ‘n “brug” album wat my ou werk met my nuwe werk verbind. Daar is van die liedjies van my eerste album wat op die album sal verskyn, maar sonder die groot verwerkings. Baie eenvoudige musiek met net basiese instrumente – Akoestiese kitaar, kontrabas, perkussies en twee stemme. Die musikante wat op die projek werk is ook almal musikante wat gaan deel in die profyte eerder as om as sessiemusikante teen betaling te werk op die projek. Dus word al die musikante vennote in die album. Die voorlopige title van die album is “Naak” omdat ons hier gaan werk met gestroopte verwerkings en natuurlike klanke. Ons beplan vir geen gesintetiseerde klanke of geluide in die verwerking nie – net wat die regte musikante op regte houtinstrumente kan maak. Die opname van my kitaar het gister nie eens gebruik gemaak van die elektronika van my Martin kitaar nie, maar is met ‘n studio mikrofoon opgeneem.
Saterdagaand toe ons by die plaas aankom, het daar ‘n lekker groot vuur gebrand, en ons het onsself gou gemaklik gamaak met heerlike geselsskap, ‘n glasie rooiwyn en lekker kos. Dorette is in haar laaste maand van haar swangerskap so na die ete is hulle bed toe. Ek het van die tyd gebruik gemaak om ‘n nuwe stel snare aan my kitaar te sit en ‘n bietjie te deurdink wat ons die volgende dag sou doen.
Sondagoggend het ons half nege gaan ontbyt, en dit is so ongeveer waar die kreatiewe kuier begin het. Ons kon Sondag net drie liedjies kon klaarkry, maar ek is baie tevrede met die werkvloei en met die kwaliteit van die resultate. Die konsep was om ‘n liedjie op ‘n keer op te neem met die drie instrumente wat ek en David verteenwoordig het (Ritme akoestiese kitaar, Vocals en Backup Vocals), en elkeen van die klankbane alreeds perfek te kry sodat die ander musikante net kan inkom en hulle gedeeltes doen waar gepas.
Die resultaat is verstommend mooi. Daar is een van die drie songs wat ons opgeneem het wat ons amper net so sonder ekstra instrumentasie kan laat. Mooi, hoor!...
Dus – baie opwinding want ek voel verseker dat ons die regte mense gekry het om saam met ons te werk aan hierdie opwindende nuwe projek. Ons het gisteraand uiteindelik so 21:30 weggekom op die plaas. Dorette en Riku is dierbare mense en dit was regtig ‘n plesier om daar te wees en te werk aan hierdie projek. Ek sien uit na die volgende sessie.
Tot Kyk
-Gideon-





Junk Mail has posted a warning about ...
Sorry, maar hierdie is nie die koeran...
angry: dis nabsolite kak koerant en ...